Ons is boere wat die genade van God elke dag beleef en wat die wonder van Sy skepping met ander wil deel. Ons wil die geleentheid skep vir families om saam tyd te spandeer en om hul kinders van kleins af lief te maak vir die natuur.
In 1837 vestig die eerste voortrekker, Jan Dreyer, hom in die latere Kroonstad distrik langs die Valsrivier. Na hom het sy skoonseun, Koos Theron en sy kleinseun Jan Theron gebou aan ‘n ryke kultuurerfenis en geskiedenis op die plaas.
In 1998 het die Botma familie die plaas bekom en is dit ‘n jare lange droom om die kultuur en geskiedenis wat opgesluit is vir die publiek beskikbaar te stel in die vorm van eko toerisme.
In die 450 ha wildskamp is ‘n ongerepte natuur soos wat dit vir duisende jare was met wildspesies, voëlspesies, ook bedreigde wild, voëls en reptiele soos die Ouvolk, vier ekologiese sisteme met, onder andere, duisende Olienhoutbome en nog vele asembenewende flora.
Een besonderse Olienhoutboom word op ongeveer 1000 jaar oud geskat.
Of jy nou stilte soek tussen die bome, jou bene wil strek op uitdagende roetes, of om die kampvuur wil kuier terwyl die naggeluide van die veld jou omring – Theron bied iets vir elke natuurliefhebber. Van kampeer onder die sterre tot bergfiets, voëlkyk, en selfs trofeejag – hier wag ’n avontuur of ’n rustigheid wat jy nie sommer sal vergeet nie.
Geniet die pragtige sonsopkoms in die geselskap van gesellige Natalse fisante en die geroep van die visarende in die verte. Die aande na ‘n besige dag kan afgesluit word om ‘n knetterende vuur op die boma saam met vriende terwyl die jakkalse roep na hulle maters vir die nag. Jy kan ook een van talle eksklusiewe terreine kies om in absolute stilte en privaatheid te kamp met jou boswa indien jy ingerig is daarvoor.
Die afstande wissel van 3 km tot 7.5 km en kan jou stamina dalk op die proef stel, daarom die rusplekke op strategiese plekke wat jou van jou moegheid sal laat vergeet. Benewens die unieke natuurtonele waarheen die roetes jou sal lei, is die roetes ook belaai met geskiedenis waar interessanthede uitgewys en verduidelik word met kennisgewings. Verder poog die roetes om jou kennis uit te brei oor bome en plantegroei met etikette wat die verskillende spesies aandui langs die pad.
Kom toets jou staal op die ongeveer 15 km roete bo oor rante met onbeperkte uitsig tot onder in die digte klowe.
Wees op die uitkyk oppad vir die talle boksoorte en ander wild.
Met sy diversiteit in habitat ontleen die plaas hom as geskikte tuiste vir ‘n groot verskeidenheid spesies. Stap, soek vir jou ‘n lekker uitkykpunt of maak gebruik van ons versteekte skuilings om jou vriende van nader te bekyk.
Ten einde wild volhoubaar te bestuur en te bewaar, is dit nodig om binne ‘n geslote wildsheining wild van tyd tot tyd uit te dun. Hier bied dit die trofeejagter die geleentheid om sy trofee in ‘n alles in een diens te bekom. Ons gesoute professionele jagter en taksidermis met 35 jaar ondervinding in Afrika en Amerika staan reg om jou droom te bewaarheid met ‘n toegeruste taksidermie op die perseel.
Kom vier daardie baie besonderse herdenking of verlowing op ‘n baie spesiale manier met vonkelwyn en ‘n ete in die ope lug van skemeraand tot die sterre knipoog. Die unieke lokaliteit sal sorg vir ‘n onvergeetlike herinnering saam met daardie spesiale persoon in jou lewe. Slegs vir 2 persone.
Bly verbind met die natuur – volg ons vir asemrowende wildlewe-oomblikke, nuus oor aktiwiteite en ‘n kykie agter die skerms van ons reservaat.